Saterdag 25 Augustus 2018

DIE DAG TOE EK MY MA NA 'N VERSORGINGSOORD MOES NEEM ...

Dit was soos ñ doodsvonnis toe die dokter vir my sê hy gaan nie my ma ontslaan, voor ons nie ñ plek vir haar in ñ versorgingsoord het nie. 
Hierdie "lady", my vriendin, my konfidant, die onafhanklike vasvat-vrou is gedegradeer tot ñ hulpelose, afhanklike en bejammerenswaardige mens in ñ rolstoel.
Die woord 'beroerte' gee géén indikasie van wat dit behels nie. Aan die anderkant die Engelse woord "stroke" is báie meer beskrywend.  Dis soos één vee (stroke) van Die Hand, en jou héle lewe word omgedop.
Skielik lyk die paar goedjies wat ek in 2 tasse moet pak, vir my pateties en só onvoldoende. So ñ totale miskonsepsie van wie en wat my ma was en steeds is. Want sy is nie wég nie? Die mens wat my ma was is iewers binne in hierdie hulpelose wese.
Ek moet élke kledingstuk merk. Ek weet nie merk ek haar klere met my trane of met die merkpen nie. Ek kyk na haar hofskoene en die bypassende handsakke en ek sukkel om verby die rots in my keel te sluk. Ek kyk na die snyerspakkies en die besef dring tot my deur dat niks óóit weer rég gaan wees nie.  Nie ons vriendskap nie, nie ons ma/dogter verhouding nie, nie ons huishouding nie (sy het by ons gebly) - niks.
Ek pak haar goedjies, ek sit allerhande snuisterytjies in. Haar bybel, gunsteling reukwater, poeier, room, ñ dagboek en foto's van ons almal. 
Ek skryf vir haar ñ briefie en sit dit by haar plekhouer in haar Bybel. Só weet ek sy sal dit kry wanneer sy vanaand lees.
Ons ry na die tehuis en ek voel soos ñ hartelose, gewetenlose "human trafficker".
Hoe gaan ek my ma daar aflaai en huistoe ry? Hoe gaan ek in haar kamer ingaan en dit wat oorgebly het, oppak? Wat gaan ek sonder my ma doen? Die rede vir my opgee van my beroep is weg. Die rede vir my opstaan elke dag is weg. Die sorgvuldige beplanning van voedsame spyskaarte is nou onnodig.
Ek sit in haar kamer en ek dink ... wat nou? Wat gaan ek nóú doen? My lewe gaan aan. Ek het ñ man wat deur alles met my gegaan het. Hy het my ondersteun, onderskraag en aangemoedig. Ek moet nou aandag gee aan dit wat van ons oorgebly het.
Ek weet ek sou nie meer na haar kon kyk nie, die versorging gee wat sy regtig benodig nie, die terapie wat sy broodnodig het om weer haar normale funksies uit te voer nie en die besef kom na my - dis ok.
Ek het gedoen wat ek kon met die beperkte middele tot my beskikking. Ek hoop maar my omgee en liefde was genoeg. Ek het haar nie gaan "aflaai" soos ñ weggooi-hondjie by die DBV nie. Ek moes dit doen om haar te help.  Al was dit binne my so ongelooflik seer om haar weg te vat, weet ek vandag, die dag wat ek my ma na die versorgingsoord moes vat, was die regte ding om te doen - vir ons almal!

Woensdag 15 Augustus 2018

GELUKKIGE VERJAARDAG IN DIE HEMEL



Eendag het my ma my vertel van boetie Deon -
ek was nie gelukkig genoeg om hom ooit te ken nie
want,
soos Eybers gesê het,
"die naelstring is gebreek"
want Boetie Deon is dood
kort voor sy tweede verjaarsdag ...

My ma & pa se seer moes seker weerklink het in Totius se
"O, die pyngedagte!"

In my meer as ñ half-eeu
het ek nou al my 'fair share' gedoen van koebaais,
ek dink ek het al genoeg gehoor dat Paulus
amper uittartend vra:
"dood, waar is jou angel en
waar is jou oorwinning,"
en ek wil nie meer sing
dat ek "ñ nuwe hemel sien kom nie"
want
kom laat ek nou vir jou sê -
dit is eina!
maar
ek weet ook
dis hoogs waarskynlik
dat my seer nog nie opgebruik is in my leeftyd nie ...

Ek gaan my nie eers probeer indink
hoe my pa en ma moes voel
om ñ seuntjie van byna twee jaar
te moes afstaan
aan die "dief" met die angel -
die dood,
om pynvry te gaan speel,
om ñ lyfie te moet groet,
om die produk van hul liefde
nooit te sien grootword of saam met sy boetie te sien speel nie ...

En in hulle verpletterde,
verwoeste gebrokenheid
ñ Keuse moes maak :
gaan hulle hulself
oorgee aan hul ellende
en hartseer
en in die GAT in hul lewens verdrink ...
of gaan hulle besluit
om op te staan,
en aan te gaan om te boer,
te ploeg, plant en te oes,
en te maak of die lewe maar net
ñ tydelike 'pause' gevat het,
want
Deon het ñ ouer boetie gehad
aan wie hulle moes verduidelik
dat sy boetie se liggie op aarde
nou gedoof is,
dat hy nou by Liewe Jesus is,
dat "hy nou ñ sterretjie is
wat elke aand oor ons waghou"
want
hoe de hèl verduidelik jy anders vir ñ vier jarige seuntjie dat sy klein bababoetie
dood is?

Die uwe is ongeveer een jaar later ge-"issue"
om ook te kon deel in die liefde,
die lief en leed,
die baklei,
die vredemaak,
en ja -
die verliese.
En vandag
is ek en my "awesome" ouboet
àl wat oor is van ñ eens gelukkige familie.

Nou sê ek maar -
Geluk met jou 57ste -
Lekker Verjaar, boetie Deon
tot ek jou ook kan ontmoet en
tot ons weer almal saam is ...
 

06/06/2018

Dinsdag 14 Augustus 2018

MY PA SE HANDE ...


DAARDIE HANDE

My pa se hande was grof en groot –

ñ boer se hande.

Hande wat kon wérk en kon vasvat,

daardie hande had stille krag.

 

Maar so was sy hande ook teer en sag,

die fynste en mooiste uit ñ ruwe stuk hout  kon hy optower,

wanneer hy my kop ampers ‘omhels’ met daardie hande en

sy growwe duime met teerheid my trane wegstreel,

was die seer sommer weer onbenullig.

 

So was daardie hande die voorbeeld van vele :

van bid –

saamgevou in gebed op sy Bybel,

is daardie hande in my onthou gegraveer;

van gee –

daardie hande was óóp vir sy medemens;

van eerstes en vertroue –

my eerste fietstrap, my eerste see-swem,

daardie hande  het my áltyd gevang,

maak nie saak hóé skeef die lewe my gegooi het nie.

 

Daardie hande was ook die eerstes van ñ man

wat ñ deur vir my oopgemaak het,

ñ stoel vir my uitgetrek het.

van heelmaak en genees –

want wanneer ek gebreek gevoel het,

het hy my stukke opgetel en weer heel laat voel.

 

So het hy ook menige siektes en einas van ons,

sy kinders, en ook die buurt se dierekinders

met teerheid en empatie behandel.

                van troos  -

want wanneer die onafwendbare tóg moes gebeur,

het daardie hande teer vertroos.

                Van versorg, voorsien en beskerm –

Want daardie hande kon wérk, hárd werk,

en hy was ‘n meester met die swaard en sweep.

 

Ek draai my vandag toe in my verlang want op hierdie Vadersdag wens ek -

kon ek maar nog één keer daardie hande sien vou in gebed,

daardie hande sien biltong fyn-fyn kerf,

daardie hande voel sluit om myne

om nog één keer my die mooi van die veld te wys ...

maar

daardie hande is nou stil in gebed gevou op sy bors,

daardie hande het moeg geword,

daardie hande het die vreug van sy arbeid volbring.

 

Nou word daardie hande omvou deur sy Maker

om vir hom die mooi van die hemel te wys.

 

Geseënde en gelukkige Vadersdag, Pappa
 

 

Saterdag 11 Augustus 2018

IS EK OKEY MET MY LYF SE OUDWORD?

Ouderdom waarborg nie wysheid nie, net so min as wat ouderdom intelligensie waarborg.

Ek glo ons word elkeen 'n aantal jare, dekades en dalk selfs 'n eeu gegee. (Soos Jesus se gelykenis van die talente, jy weet?) Jy kry iets - maar daarmee saam het jy dan 'n verantwoordelikheid.  Wat doen jy met die tyd wat jou gegee is? Hoe "deal"  jy met die hand wat jou gedeel is?

So sien ek ons lewens ... en ek kyk na myself, en ek wonder waar die jare heen is.  Wat gaan ek wys as ek terugkyk op my lewe? Sal ek sê :  "Ek is okey met my lyf se oudword en die onthou waarmee ek gaan oudword"?

My kinderjare is 'n skatkis van woorde, liedjies, foto's, stories, lekker lag en ja, ook genoeg aan sy eie eina's - maar "'n lewensinventaris" soos wyle Lucas Maree gesê het. 'n Lewensinventaris van kosbare en dierbare sprokie-skatkis herinneringe.
Maar soos dit nou mos gaan in die ou lewe (en in sprokies), is daar mos altyd 'n "drol in die drinkwater!

Tipies nuuskierige Eva, gaan ek mos en maak 'n "Pandora's Box"oop en leef die gevolge van my voortvarendheid vir 'n dekade en nog 3 jaar.  Affairs sê ek is nie genoeg nie, vuishoue, klappe en skoppe laat merke, breek en kneus, maar word weer gesond. Dis egter die narcistiese en sielkundige aftakeling wat die dieper wonde gelaat het.  Daai merke kon ek wegsteek, maar dit wou nie rowe groei en gesond word nie. My siel het seergekry en ek het weggekruip, 'n front voorgehou by familie en vriende, my maskertjie daagliks gedra tot die finale aanslag wat byna my lewe gekos het. Maar ek het my beroep op Jesus se belofte dat Hy my nooit sal begewe of verlaat nie.
 
En ek besluit, maar dis mos nou genoeg! Ek is klaar daarmee om 'n slavin van vrees te wees.  Die 13 jaar se verniel wat, so voel dit vir my,  100 jaar se leef by my gesteel het, gaan nie my langer bind en die res van my lewe ook steel nie. En ek loop uit daardie lewe uit met amper niks ...
Daai lewe los my toe, net soos in Pandora se boks, met een ding oor - HOOP.  Hoop vr my en my 2 seuns.  Hoop om weer deur geloof en my kleintyd se onthou boustene te vat vir 'n nuwe lewe.

Wanneer die stemme in my kop weerklink het :"Jy is "useless" gee op, jy sal dit nie maak nie,"  het HOOP vir my gefluister: "Probeer nog 'n keer. Een dag op 'n slag. Hy is langs julle, agter julle, bo julle, om julle en Hy loop die pad saam met julle. Doen één dag op 'n slag. More doen jy dit weer. Jy leef nie jou hele lewe in een dag nie. Doen vandag. More probeer jy verbeter op vandag. Soos 'n doktersvoorskrif - Herhaal indien nodig. Herhaal tot jy jouself weer goed genoeg ag en jouself en ander mense weer in die oë kan kyk."

En  so word dit vir my 'n slagspreuk vir my 2 reënboë - my twee seuns,  - wat na elke traangevulde dag my aangemoedig het om ons lewe weer te probeer herbou. 
  1. Mamma, jou hand in Sy hand
  2. ons hande in mekaar se hande
  3. en in Sy hande is ons veilig en gaan ons dit maak.
So leer ek dat ek nie alleen hoef te baklei nie.  Al haal ek nog soms die seer en lelik uit en herleef  dit en maak my hart leeg, is die lelik minder lelik en amper bekend, die seer begin rofies maak en die verwyte klink al dowwer & bykans onhoorbaar en so leer ek om my siel skoon te maak en in die proses te vergewe, want slegs deur te vergewe kan ek genesing vind.

Maar ek leer ook dat die lewe maar net soos 'n mens is - nie nét sleg nie. 

In my tweede kans op lewe stuur Hy vir my 'n maat, 'n sielsgenoot, iemand wat my bemoedig om myself weer te leer liefkry en wat mý liefgekry het. Iemand wat die pad saam met my loop.   Ek kry seёninge aan die einde van my reёnboё - keinkinders wat my potte goud is ...

Ek speel pop met 'n blou oog prinses, ek speel karretjies met my twee prinse, ek klouter koppies uit, ek bak koekies en ry fiets, ek spring tot trampoline en ek vergeet dat my lyf oud word! Maar ja, maak geen fout nie, my lyf het dit duidelik gemaak die volgende dag dat ek nie 25 is nie maar 'n "fool" aan die verkeerde kant van 55!

Ek grinnk heimlik wanneer die geselskap onbepland in die rigting van skete, brille, pille en moontlike Dischem-vouchers vir verjaarsdae begin beweeg.  Ek weet dis onvermydelik want my hande lyk ál meer na my ouma s'n en ek verstaan en voel die seer knop vingers elke nag, my spieёl wys die erosie dongas op my gesig, my haarkapster meng ál hoe meer ""doepa" om die silwer in my kroon te verbloem, die "font" in al wat boek is, veroorsaak dat die oogkundige 'n paaiement op 'n nuwe motor uit my gemaak het - en dit net sodat ék kan lees en werk en ek is oortuig hier bly gogga-ma-bielies wat my goed wegsteek - want niks is waar ek séker is ek dit gelos het nie.

Dis nie al nie!  Onthou julle hoe jy na werk by die huis gekom het, jou skoene uitgeskop het en jou bra afgepuk en "vry" asemgehaal het? Wel, DIT kan nie meer gebeur nie, want ook dáár het gravitasie sy tol geëis en strakkies dink manlief ek het water op die knieë! O, en gepraat van water - ek het géén vrees om te verdrink nie - ek is ge-"cover" met my ingeboude "tjoepies"wat my laat dryf soos 'n seekoei.

My afdraend-agterwêreld soos 'n ou damgans, help ook nie vir die selfbeeld wanneer ek dink ek behoort eintlik nog goed te lyk in 'n jean nie, en my spieёl my duidelik van die teendeel oortuig (Ek moet seker bly wees die ding kan nie uitbars van die lag nie!)

Ek lees hulle beweer om frambose te eet help om plooie te bekamp, en jy kan selfs aambei salf aansmeer, ??? - dis nou as jy nie die Botox pad wil loop nie (en daai is nou nie in my gesigseinder, begroting of wildste drome nie). 

Alle grappies op 'n stokkie - soos hulle sê. 

Ek dink ek sal weet as ek okey is met my lyf se oudword, en eintlik is ek.
Ek is dankbaar as ek na my lyf kyk en ek weet ek het my gegewe jare gelééf ...
Weliswaar nou nie "glamorous"nie maar ek het 'n argief van onthou

Klein herinneringe ... 
kosbare spore in my hart en
merke wat eens op 'n tyd gebloei het.

Maar weet jy wat?

Niemand kan daardie skatkis herinneringe van my wegvat nie ... Hmmm , dalk as Alzheimers my onthou kom steel ...
maar dan is dit so beskik en dan is my lyf se oudword ook okey,
en ek dink ek sal kan sê:  "Lyf, ek 's okey met jou oudword -You served me well!"