Ouderdom waarborg nie wysheid nie, net so min as wat ouderdom intelligensie waarborg.
Ek glo ons word elkeen 'n aantal jare, dekades en dalk selfs 'n eeu gegee. (Soos Jesus se gelykenis van die talente, jy weet?) Jy kry iets - maar daarmee saam het jy dan 'n verantwoordelikheid. Wat doen jy met die tyd wat jou gegee is? Hoe "deal" jy met die hand wat jou gedeel is?So sien ek ons lewens ... en ek kyk na myself, en ek wonder waar die jare heen is. Wat gaan ek wys as ek terugkyk op my lewe? Sal ek sê : "Ek is okey met my lyf se oudword en die onthou waarmee ek gaan oudword"?
My kinderjare is 'n skatkis van woorde, liedjies, foto's, stories, lekker lag en ja, ook genoeg aan sy eie eina's - maar "'n lewensinventaris" soos wyle Lucas Maree gesê het. 'n Lewensinventaris van kosbare en dierbare sprokie-skatkis herinneringe.
Maar soos dit nou mos gaan in die ou lewe (en in sprokies), is daar mos altyd 'n "drol in die drinkwater!
Tipies nuuskierige Eva, gaan ek mos en maak 'n "Pandora's Box"oop en leef die gevolge van my voortvarendheid vir 'n dekade en nog 3 jaar. Affairs sê ek is nie genoeg nie, vuishoue, klappe en skoppe laat merke, breek en kneus, maar word weer gesond. Dis egter die narcistiese en sielkundige aftakeling wat die dieper wonde gelaat het. Daai merke kon ek wegsteek, maar dit wou nie rowe groei en gesond word nie. My siel het seergekry en ek het weggekruip, 'n front voorgehou by familie en vriende, my maskertjie daagliks gedra tot die finale aanslag wat byna my lewe gekos het. Maar ek het my beroep op Jesus se belofte dat Hy my nooit sal begewe of verlaat nie.
En ek besluit, maar dis mos nou genoeg! Ek is klaar daarmee om 'n slavin van vrees te wees. Die 13 jaar se verniel wat, so voel dit vir my, 100 jaar se leef by my gesteel het, gaan nie my langer bind en die res van my lewe ook steel nie. En ek loop uit daardie lewe uit met amper niks ...
Daai lewe los my toe, net soos in Pandora se boks, met een ding oor - HOOP. Hoop vr my en my 2 seuns. Hoop om weer deur geloof en my kleintyd se onthou boustene te vat vir 'n nuwe lewe.
Wanneer die stemme in my kop weerklink het :"Jy is "useless" gee op, jy sal dit nie maak nie," het HOOP vir my gefluister: "Probeer nog 'n keer. Een dag op 'n slag. Hy is langs julle, agter julle, bo julle, om julle en Hy loop die pad saam met julle. Doen één dag op 'n slag. More doen jy dit weer. Jy leef nie jou hele lewe in een dag nie. Doen vandag. More probeer jy verbeter op vandag. Soos 'n doktersvoorskrif - Herhaal indien nodig. Herhaal tot jy jouself weer goed genoeg ag en jouself en ander mense weer in die oë kan kyk."
En so word dit vir my 'n slagspreuk vir my 2 reënboë - my twee seuns, - wat na elke traangevulde dag my aangemoedig het om ons lewe weer te probeer herbou.
- Mamma, jou hand in Sy hand
- ons hande in mekaar se hande
- en in Sy hande is ons veilig en gaan ons dit maak.
Maar ek leer ook dat die lewe maar net soos 'n mens is - nie nét sleg nie.
In my tweede kans op lewe stuur Hy vir my 'n maat, 'n sielsgenoot, iemand wat my bemoedig om myself weer te leer liefkry en wat mý liefgekry het. Iemand wat die pad saam met my loop. Ek kry seёninge aan die einde van my reёnboё - keinkinders wat my potte goud is ...
Ek speel pop met 'n blou oog prinses, ek speel karretjies met my twee prinse, ek klouter koppies uit, ek bak koekies en ry fiets, ek spring tot trampoline en ek vergeet dat my lyf oud word! Maar ja, maak geen fout nie, my lyf het dit duidelik gemaak die volgende dag dat ek nie 25 is nie maar 'n "fool" aan die verkeerde kant van 55!
Ek grinnk heimlik wanneer die geselskap onbepland in die rigting van skete, brille, pille en moontlike Dischem-vouchers vir verjaarsdae begin beweeg. Ek weet dis onvermydelik want my hande lyk ál meer na my ouma s'n en ek verstaan en voel die seer knop vingers elke nag, my spieёl wys die erosie dongas op my gesig, my haarkapster meng ál hoe meer ""doepa" om die silwer in my kroon te verbloem, die "font" in al wat boek is, veroorsaak dat die oogkundige 'n paaiement op 'n nuwe motor uit my gemaak het - en dit net sodat ék kan lees en werk en ek is oortuig hier bly gogga-ma-bielies wat my goed wegsteek - want niks is waar ek séker is ek dit gelos het nie.
Dis nie al nie! Onthou julle hoe jy na werk by die huis gekom het, jou skoene uitgeskop het en jou bra afgepuk en "vry" asemgehaal het? Wel, DIT kan nie meer gebeur nie, want ook dáár het gravitasie sy tol geëis en strakkies dink manlief ek het water op die knieë! O, en gepraat van water - ek het géén vrees om te verdrink nie - ek is ge-"cover" met my ingeboude "tjoepies"wat my laat dryf soos 'n seekoei.
My afdraend-agterwêreld soos 'n ou damgans, help ook nie vir die selfbeeld wanneer ek dink ek behoort eintlik nog goed te lyk in 'n jean nie, en my spieёl my duidelik van die teendeel oortuig (Ek moet seker bly wees die ding kan nie uitbars van die lag nie!)
Ek lees hulle beweer om frambose te eet help om plooie te bekamp, en jy kan selfs aambei salf aansmeer, ??? - dis nou as jy nie die Botox pad wil loop nie (en daai is nou nie in my gesigseinder, begroting of wildste drome nie).
Alle grappies op 'n stokkie - soos hulle sê.
Ek dink ek sal weet as ek okey is met my lyf se oudword, en eintlik is ek.
Ek is dankbaar as ek na my lyf kyk en ek weet ek het my gegewe jare gelééf ...
Weliswaar nou nie "glamorous"nie maar ek het 'n argief van onthou
Klein herinneringe ...
kosbare spore in my hart en
merke wat eens op 'n tyd gebloei het.
Maar weet jy wat?
Niemand kan daardie skatkis herinneringe van my wegvat nie ... Hmmm , dalk as Alzheimers my onthou kom steel ...
maar dan is dit so beskik en dan is my lyf se oudword ook okey,
en ek dink ek sal kan sê: "Lyf, ek 's okey met jou oudword -You served me well!"
Wow, dis wonderlik geskryf my vriendin. Uitstekend.
AntwoordVee uitJy mag maar my liewe Corlia ♡
AntwoordVee uitOud word lê nog voor vir ons almal. Steiler en meer kronkel vir sommiges, ma solank ons geloof het en familie het wat uit sy eie uit skree " KOM EK ABBA JOU" sal ons dit maak.Jou " NET WORTH" is after all jou familie en nie die materialistiese rommol of note in jou lewe nie. So ons is 'n klomp Jeff Bezous as jy my vra ma jy vra my nie so ek maak ma my rommol bymekaar en se net dankie, ek is lief vir jou want dis al wat ek het.
AntwoordVee uitJy moet 'n "blog"skryf! Jy kon nog altyd toor met woorde!
Vee uitWOW! 😘
AntwoordVee uitSIGEUNERSANG
AntwoordVee uitHoe min het ek besef
hoeveel geluk my sou tref,
toe ek jou daar
op die stoep sien staar.
En toe jy skielik voor my staan,
het alle wind uit my seile gegaan.
Ek het skielik geweet
ek gaan jou nooit vergeet.
Ander het veroordeel en geneuk
selfs met jaloersheid kwaad gesteek
maar ons siele was aan mekaar geklink
toe ons die eerste glasie skink.
Die pad voor is steil,
daar is selfs dorings in verskuil,
maar saam sal ons dit maak
want liefde het ons aangeraak.
(Geskryf vir jou, deur J.A. Steyn alias PLUTO)
23 Desember 2003
Bogenoemde gedig het my man vir my geskryf vir Kersfees, 6 jaar na ons al getroud is. Dit is steeds een van my "prized possessions" en ons was hierdie jaar 21 jaar getroud!!
AntwoordVee uit(Dankie my Lief - Corlia Steyn)