Maandag 24 Desember 2018



KERSFEES MAGIC

 

Wanneer jy nie juis uitsien na Kersfees nie, en 5 "engelkinders" kom helder jou laatmiddag - vroegaand op om jou "kersboompietjie" (klein) te kom versier,

dan begin jy weer in die "magic" van Kersfees glo. 
Nie groot of duur geskenke nie, nie dood-vreet-oorlaaide tafels vol kos nie, +

nie blink en blieng nie.
Nie die mense wat met strak gesigte soos geprogrammeerde robotte haas van een winkel na die ander om tog net te probeer om die gate in hul harte of gewetes te probeer toemaak deur nog en nog en nog te koop nie.
Ouma het altyd gesê: "Koop-koop se hand is oop, maar betaal-betaal se gat is kaal. "
En ek wonder,  wanneer Kersfees en Nuwe Jaar verby is en die nuut en opgewondenheid van die geskenke begin taan,

die "budget" klop nie, maar jou kop wel,
en die "worries" oor die nuwe jaar se uitdagings neig om jou vrede te steel -
Maak dit règtig saak hoe duur dit wat jy vir iemand gee, gekos het?
Maak dit regtig saak óf jy hoegenaamd iets gee?


Weet jy dis nié waaroor Kersfees gaan nie?
Weet jy dat goeters nie gate in jou siel kan heelmaak nie?
Wanneer gaan jy dan besef daai is leë blikke?

En leë blikke lawaai …


Daai is nie wat Kersfees spesiaal maak nie.
Dis nie die duur, klein boksies onder die kersboom nie
of die groot, blink motor in die "driveway"
of die kreunende tafels met kos wat ñ klein landjie vir ñ maand kan voed nie,
en vir seker is dit nie die babbelaas oor jy jou onthou wou verdrink nie...


Dis om laggende kinders met blink gesiggies op jou voorstoep te hê
wat soos kwetterende vinke klink terwyl hulle wed-ywer om ook net ietsie aan die boompie te kan hang,
dis om "leen-drukkies" te kry van kinders wat nie joune is nie
want jou kinders is vêr,
dis om die wilde voëls te voer,
dis om ñ bord kos met jou geliefde in vrede te deel,
dis om langs die see hand aan hand te stap en met mekaar te prààt,
dis om saam te kan lag,
dis om dankbaar te wees vir ontelbare seëninge -
Kinders, skoonkinders, kleinkinders,
Broers, skoonsusters, swaers,
Vriende en vriendinne -
Hàrtsmense!
Daai is maar net ñ bietjie van wat Kersfees spesiaal maak.


My hart wil terselfdertyd in stukke skeur oor my gròòt verlang na my hartsmense
maar hy (my hart) wil ook bars van lekkerkry en opgewondenheid,
want ek is maar in my hart tog ook maar net ñ kind -
en ek geniet hierdie "leen-kinders" se opgewondenheid.

 

Ons boompietjie is pragtig
want pragtige kinders het dit versier.
My Kersfees is pragtig
want my lewe is vol.
My seëninge is bàie
want ek het nie leë blikke wat geraas maak nie.


My Kersfees is spesiaal
want
Ek het nie gate wat iemand met goeters hoef  toe te stop nie.
My Kersfees is "magic" want die grootste Geskenk is ongeveer 2 013 jaar gelede sonder blieng of fanfare gebore in ñ nederige stal
en Hy is my "Reason for the Season".


Mag elkeen van julle wat hier lees ñ Wonderlike Geseënde Christusfees geniet mèt of sònder jou hartsmense.
Soek vir die "magic" in jou Kersfees -
want


"Al was ek nie daar nie
Weet ek dit is waar
Die krip en Maria
En Josef by haar ...."

 

 

24/12/2018

 

 

KLEINTYD SE ONTHOU

 

Ek onthou baie jare terug - die grondpaaie in Rensburg - Oukersaand - soel somersaand. Ons is al almal blink gesig gewas/gebad/gestort & daar heers ñ onderliggende opgewondenheid.
Die familie & vriende is by ons.  My pa en ooms braai ñ vleisie.  Die slaaie, pap & sous is lankal reg om op te skep.  Ek onthou my ma se skalkse glimlag, wanneer ons vra wanneer kersvader dan gaan kom en haar antwoord - "wanneer ons eers gegee het."
Ek onthou die reuk van die jasmyn wat meng met die reuk van gesnyde gras.  Ek onthou ñ oom se trok waarop ons geklouter het -  en of jy nou ñ gatjieponder, dopper, apostool, akkedis (adventis), katoliek, presbiteriaan, joods of agnosties was - jy het geklim - want Kersfees was Kersfees vir àlmal.


As jy nie die woorde geken het nie, het jy geneurie, maar sing het ons gesing. Al die strate deurgery, al die kersliedere gesing en dan op te eindig by die hospitaal en ouetehuis. 
Ek onthou die seer-knop-in-die-keel Stille Nag se laaste note wat wegsterf en ou en siek mense wat dankie sê met trane wat oor hul wange rol.


Wanneer ons weer terug was by die huis, onthou ek ñ vreedsaamheid by my ma & pa, maar ek onthou nie hoekom nie. En ek onthou ook nie dat ek ooit gevra het nie.
Wat ek wel onthou, is my pa se growwe stem wat die dankgebed doen voor ons eet en nòù verstaan ek ...
Nou, na baie jare, praat ek met ñ vriendin van my ma en ook haar niggie en ons loop hierdie onthou-pad.  En ek vra oor die vreemde vreedsaamheid wat ek by my ma & pa gewaar het.
En met ñ trotse & dankbare hart hoor ek vandag eers, sóveel jaar na die tyd, dat my ouers, terwyl ons kinders gaan kersliedere sing het, op hul eie "rondtes" gegaan het en geskenkies (dikwels tuisgemaak deur die nag by ñ naaimasjien) & my pa na werk in die garage by die houtwerk tafel, saam kos & geskenkies gaan uitdeel het aan hulle wat nie gehad het nie, of minder as ons gehad het, en ek verstaan nòù eers wat my ma bedoel het toe sy gesê het kersvader sal kom as ons eers gegee het.


Weereens ñ les - jy kan nie ontvang met hande wat toe is nie - gee eers,
maak leeg daai hande,
maak leeg daai hart,
Wees ñ gee-mens.


Ek wil vanaand, op hierdie Oukersaand vir elke iedere een,
'n Baie Geseënde Christusfees toewens.
Laat ons dit ñ omgee-dag maak. ñ Gee-dag. ñ Liefdesdag. ñ Seën-dag. 
Want ons - ek en jy - het die beste en grootste GESKENK ooit ontvang meer as 2000 jaar gelede.
Gee aan Hom die eer. 


Kom ons lèèf Jesus!  Kom ons leef in dankbaarheid. Kom ons sien waaroor Kersfees régtig gaan. Moenie Christus uit Kersfees, die Christusfees uithaal nie - dan gaan jy die kern mis!
Geniet ñ wonderlike Kersfees met jou geliefdes, as jy geseënd is om hul by jou te kan hê. Tyd is kosbaar - spandeer dit wys.  Die lewe is kort - moenie dit verkwis nie.
Kom ons wees Jesus vir iemand!


Skep "onthou-oomblikke" - dis bitter kosbaar!💕🙌🙏🎁🎀📖

 

24/12/2017

 

Saterdag 13 Oktober 2018

MY MOSAMBIEK ENGEL

Dagboek-inskrywing 6 Mei 2017 - 'N SEER,SEER, BAIE SEER HART

Vandag wil ek iets met julle deel - party van julle gaan julle oë rol want ek gaan julle tog net irriteer, maar ek weet ook in my hart, daar is van julle wat sal verstaan.

Op 23 Februarie 2017 moes ek, na 14 jaar van getroue kameraadskap, my ouvrou Fiela-kat laat uitsit.
Sy was sommer 'n "gutter"kat wat 'n Madame geword het.  Ons was haar gedienstige personeel en sy het 'n "personality of note" ontwikkel. Vreemde mense het vir haar Kersgeskenke gebring en sy het selfs e-posse ontvang van oorsese gaste (Praag, Tsjeggo-Slowakye en Londen). Menige gas het, wanneer hul skakel om 'n bespreking te doen, verneem na hààr welstand voor daar gevra is hoe dit met my of enige iemand anders gaan. Sy het ons altyd ingewag en ons duidelik van haar misnoë bewus gemaak om haar so te laat ly sonder aandag! En hierdie formidabele persoonlikheid het vir oulaas met haar goudgeel oë na my gekyk, voor sy finaal in die niks versink het terwyl ek haar sagte, maer ou lyf vasgehou het. 'n Gat is uit my hart geruk!

Op 22 April 2017, op pad na 'n welverdiende vakansietjie, kry ek my vriendin se gevreesde oproep - Bart se 14 jarige ou lyf kan en wil nie meer baklei nie. My klein windgat Scotty wat ek as verjaardag geskenk by my man gekry het, wat ons grootgemaak het, wat 'n maatjie Bonnie gekry het en saam met haar het hulle 4 werpsels van die aller-allermooiste klein Skotse Terriertjies in die lewe gebring.

Ek sien hom eintlik in my geestes-oog - hy het soos 'n senuagtige pappa kort-kort kom snuffel by die "kraamkamer". Hy was nou nie juis 'n geduldige pappa wanneer die skerp tandjies van die klein terriertjies hom karnuffel het nie, maar dit het darem net gebly by net 'n brom.

Toe trek ons KZN toe en hy ontdek die see, die wόnderlike see, die sand, branders en vir Jessie. Hy was tog só verlief op Jessie, die Duitse Herdershond. Hy kon nét nie by haar bykom nie maar hy het tog sy laaste dae saam met haar deurgebring. Hy het dit geliéf om vir Jessie te gaan kuier en motor te ry en kon tog só spog, wanneer hy ge"valet"(geskeer) is by die salon! Hy kon menige mens laat lag deur net homself te wees. 'n Regte "Mr Personality"!

My trots, my konfidant, my sieketrooster en oppasser, my nar, my chocolate-dief, my dierbaarste klein "surfer" van branders by Winkelspruit strand - ou Bart moes die reënboogbrug oorsteek.

Ek voel of Kimberley se gat in my lyf insink waar my hart moet wees en ek tjank soos 'n alleen jakkals in die Bosveldnag - lank en sonder voorbehoud.  Die stukkendgeit brand in my bors en 'n vol Vaaldam se oop sluise se water spoel oor my wange. Hoeveel seerkry kan 'n mensehart dan verduur?
Hoe meet ek die pyn wat die verlies van my diere-kinders teweeggebring het?

Maar so gaan ons vir die eerste keer in 20 jaar op 'n familie-vakansie en dis met gemengde gevoelens wat ek uit die bakkie klim in Ponta in Mosambiek na die hartseernuus oor Bart, en wat sal ek sien?

By ons kampplek, by een van die huisies langs die paadjie op pad na ons huisie, staan 'n Scotty -
en ek wil eers verby loop en in my seerkry gaan wegkruip, maar dis asof hy my met sy bruin beertjie-oë dwing om na hom te kyk - en dis asof hy vir my sê:
"Hallo jy, wees-dierema,
kom sit hier by my.
Bart & Fiela sê jy moenie so huil nie,
los die stukkende gevoelte in jou binneste en loop liewer die onthou-pad."

En hierdie Scotty vind 'n gat in die draadheining rondom hulle huisie om uit te kom,
en hierdie troos-Scotty kom kuier elke dag by ons - in ons huisie,
asof hy weet,
hierdie wees-dierema en -pa kort bàie troos-lekke.
En ons voer hom
En hy "praat"met ons (nes Bart ook gemaak het met so growwe stem)
En hy maak vir 'n rukkie vir 'n dag of 4 of hy ons s'n is -
En, miskien wàs hy?

Maar toe ons ry - toe's hy weg ...
nêrens te sien nie.
Maar hy wàs daar - die koekoesgeit het my nie gevat nie!

Ek wѐѐt,
want ek het foto's,
en ek kan die onthou-pad loop sonder om so vrѐѐslik stukkend te voel.

Dankie Scotty-sonder-naam -
Ek hoop maar om eendag weer Madame Fiela & ou Bart aan die ander kant te vind
en intussen sê ek vir jou:

Wanneer jy die reënboogbrug oorsteek en jy sien my twee diere-kinders,
stuur asb vir hulle baie liefde en sê vir hulle ons mis hulle ...

en vir jou sê ek

Dankie my Mosambiek Engel !



Maandag 17 September 2018

MY LEGKAART STUKKE


Vanaand lê hier ñ leegte in my,
ñ Verlange wat ek nie gevul kan kry nie.
Dis soos ñ legkaart wat jy bou
en skielik is hier 2 kardinale stukke soek
Ek mis my teddiebeer-seun wat die lekkerste drukkies kan gee
my op-bondel-in-sy-arms en
my vir daai oomblik laat voel - àls gaan okey wees
My seun wat, sonder baie woorde, als vir my met 'ons' liedjie vertel
My groot blou oog seun met die klein hartjie.
Ek mis my filosofiese-seun wat tog so kwaai en hardekwas kan wees
maar wat ñ romantiese, diep siel is
My seun vir wie ek moes lewendig bid
en menige dae gewonder het of hy gaan groot word.
Ek is só trots op julle en op wat julle bereik het en vir wie julle geword het - jong mans met waardes.
Dankie vir die mooi
Dankie vir die respek
Dankie vir die liefde
Dankie Here dat ek die eer het om hulle ma te kan wees.
Ek is lief vir julle!

ID OF ID-LOOS?

Ďept Binnelandse Sake -September 2015:
En hier sit ons nog .... 2 ure later. Nog in dieselfde tou. Wagtend om ID & paspoort af te haal.
Ons is darem nou al binne- in die gebou, onderdak, maar of dit iets is om oor opgewonde te raak is oop vir bespreking. Dis nou 9:15. Jy kan beswaarlik asemhaal.

Dit is V.U.I.L.!!! Morsig is nie eers 'n behoorlike beskrywing nie. Die ligte is so vol stof, dis eintlik dof. Die rekenaars is vol stof en vol vet. (Nie verbasend as jy die KFC boksies oral op die toonbank sien nie). Daar is 5 bedieningstoonbanke. 3 amptenare het darem al hul rekenaars aangeskakel, maar van werk is daar nie sprake nie.
 Bespreek gister se skietery by die taxi staanplek in Durban se middestad, drink tee, skuif die pruik reg op die kop, klap-klap teen die kop (om die selle wakker te maak of die luise dood te maak?), krap so slag in die neus en "snork" so 3 x.
Genade, gaan sy met daai hande aan my dokumente vat? Wonder ek.
Dis 9:30 & hier daag nog 2 amptenare op. Neem sowat 10 minute om aan te teken en nou word daar eers weer nuus uitgeruil!
Intussen wag ons maar "geduldig". Toe my "buurman" in die tou, 'n ou tata, hom vererg en vra wanneer hulle nou gaan begin werk, toe is dit 'n tongklappery uit 'n ander wêreld!
Uiteindelik begin die tou korter raak. Nog 7 mense voor my en ....
"You can go or wait - we are offline!"
Ek moet hard op my tande byt. Ek sit hier van 7:15 af. Dis koud. Persoonlike higiëne is nie hoog op die prioriteitslys nie en ek probeer asemhaal.
11:45 - Ons juig! Daar word nou weer gewerk en uiteindelik kom my beurt ook. Maar gril, gril ek vir my in 'n hoendervleis in toe ek my ID moet vat by die vrou met die "vuil" vingers.
Na amper 5 ure het ek 'n nuwe ID & paspoort & albei is afgevee met 'n Dettol Wetwipe. Nee hel man! Maar Mosambiek hier kom ek - ek hoop hierdie marteling was die moeite werd!!

Een ding is verseker, ek sal nie weer Dept Binnelandse Sake besoek vir 'n ID nie.

Dan bly ek liewer ID-loos!

Saterdag 25 Augustus 2018

DIE DAG TOE EK MY MA NA 'N VERSORGINGSOORD MOES NEEM ...

Dit was soos ñ doodsvonnis toe die dokter vir my sê hy gaan nie my ma ontslaan, voor ons nie ñ plek vir haar in ñ versorgingsoord het nie. 
Hierdie "lady", my vriendin, my konfidant, die onafhanklike vasvat-vrou is gedegradeer tot ñ hulpelose, afhanklike en bejammerenswaardige mens in ñ rolstoel.
Die woord 'beroerte' gee géén indikasie van wat dit behels nie. Aan die anderkant die Engelse woord "stroke" is báie meer beskrywend.  Dis soos één vee (stroke) van Die Hand, en jou héle lewe word omgedop.
Skielik lyk die paar goedjies wat ek in 2 tasse moet pak, vir my pateties en só onvoldoende. So ñ totale miskonsepsie van wie en wat my ma was en steeds is. Want sy is nie wég nie? Die mens wat my ma was is iewers binne in hierdie hulpelose wese.
Ek moet élke kledingstuk merk. Ek weet nie merk ek haar klere met my trane of met die merkpen nie. Ek kyk na haar hofskoene en die bypassende handsakke en ek sukkel om verby die rots in my keel te sluk. Ek kyk na die snyerspakkies en die besef dring tot my deur dat niks óóit weer rég gaan wees nie.  Nie ons vriendskap nie, nie ons ma/dogter verhouding nie, nie ons huishouding nie (sy het by ons gebly) - niks.
Ek pak haar goedjies, ek sit allerhande snuisterytjies in. Haar bybel, gunsteling reukwater, poeier, room, ñ dagboek en foto's van ons almal. 
Ek skryf vir haar ñ briefie en sit dit by haar plekhouer in haar Bybel. Só weet ek sy sal dit kry wanneer sy vanaand lees.
Ons ry na die tehuis en ek voel soos ñ hartelose, gewetenlose "human trafficker".
Hoe gaan ek my ma daar aflaai en huistoe ry? Hoe gaan ek in haar kamer ingaan en dit wat oorgebly het, oppak? Wat gaan ek sonder my ma doen? Die rede vir my opgee van my beroep is weg. Die rede vir my opstaan elke dag is weg. Die sorgvuldige beplanning van voedsame spyskaarte is nou onnodig.
Ek sit in haar kamer en ek dink ... wat nou? Wat gaan ek nóú doen? My lewe gaan aan. Ek het ñ man wat deur alles met my gegaan het. Hy het my ondersteun, onderskraag en aangemoedig. Ek moet nou aandag gee aan dit wat van ons oorgebly het.
Ek weet ek sou nie meer na haar kon kyk nie, die versorging gee wat sy regtig benodig nie, die terapie wat sy broodnodig het om weer haar normale funksies uit te voer nie en die besef kom na my - dis ok.
Ek het gedoen wat ek kon met die beperkte middele tot my beskikking. Ek hoop maar my omgee en liefde was genoeg. Ek het haar nie gaan "aflaai" soos ñ weggooi-hondjie by die DBV nie. Ek moes dit doen om haar te help.  Al was dit binne my so ongelooflik seer om haar weg te vat, weet ek vandag, die dag wat ek my ma na die versorgingsoord moes vat, was die regte ding om te doen - vir ons almal!

Woensdag 15 Augustus 2018

GELUKKIGE VERJAARDAG IN DIE HEMEL



Eendag het my ma my vertel van boetie Deon -
ek was nie gelukkig genoeg om hom ooit te ken nie
want,
soos Eybers gesê het,
"die naelstring is gebreek"
want Boetie Deon is dood
kort voor sy tweede verjaarsdag ...

My ma & pa se seer moes seker weerklink het in Totius se
"O, die pyngedagte!"

In my meer as ñ half-eeu
het ek nou al my 'fair share' gedoen van koebaais,
ek dink ek het al genoeg gehoor dat Paulus
amper uittartend vra:
"dood, waar is jou angel en
waar is jou oorwinning,"
en ek wil nie meer sing
dat ek "ñ nuwe hemel sien kom nie"
want
kom laat ek nou vir jou sê -
dit is eina!
maar
ek weet ook
dis hoogs waarskynlik
dat my seer nog nie opgebruik is in my leeftyd nie ...

Ek gaan my nie eers probeer indink
hoe my pa en ma moes voel
om ñ seuntjie van byna twee jaar
te moes afstaan
aan die "dief" met die angel -
die dood,
om pynvry te gaan speel,
om ñ lyfie te moet groet,
om die produk van hul liefde
nooit te sien grootword of saam met sy boetie te sien speel nie ...

En in hulle verpletterde,
verwoeste gebrokenheid
ñ Keuse moes maak :
gaan hulle hulself
oorgee aan hul ellende
en hartseer
en in die GAT in hul lewens verdrink ...
of gaan hulle besluit
om op te staan,
en aan te gaan om te boer,
te ploeg, plant en te oes,
en te maak of die lewe maar net
ñ tydelike 'pause' gevat het,
want
Deon het ñ ouer boetie gehad
aan wie hulle moes verduidelik
dat sy boetie se liggie op aarde
nou gedoof is,
dat hy nou by Liewe Jesus is,
dat "hy nou ñ sterretjie is
wat elke aand oor ons waghou"
want
hoe de hèl verduidelik jy anders vir ñ vier jarige seuntjie dat sy klein bababoetie
dood is?

Die uwe is ongeveer een jaar later ge-"issue"
om ook te kon deel in die liefde,
die lief en leed,
die baklei,
die vredemaak,
en ja -
die verliese.
En vandag
is ek en my "awesome" ouboet
àl wat oor is van ñ eens gelukkige familie.

Nou sê ek maar -
Geluk met jou 57ste -
Lekker Verjaar, boetie Deon
tot ek jou ook kan ontmoet en
tot ons weer almal saam is ...
 

06/06/2018