Dagboek-inskrywing 6 Mei 2017 - 'N SEER,SEER, BAIE SEER HART
Vandag wil ek iets met julle deel - party van julle gaan julle oë rol want ek gaan julle tog net irriteer, maar ek weet ook in my hart, daar is van julle wat sal verstaan.
Op 23 Februarie 2017 moes ek, na 14 jaar van getroue kameraadskap, my ouvrou Fiela-kat laat uitsit.
Sy was sommer 'n "gutter"kat wat 'n Madame geword het. Ons was haar gedienstige personeel en sy het 'n "personality of note" ontwikkel. Vreemde mense het vir haar Kersgeskenke gebring en sy het selfs e-posse ontvang van oorsese gaste (Praag, Tsjeggo-Slowakye en Londen). Menige gas het, wanneer hul skakel om 'n bespreking te doen, verneem na hààr welstand voor daar gevra is hoe dit met my of enige iemand anders gaan. Sy het ons altyd ingewag en ons duidelik van haar misnoë bewus gemaak om haar so te laat ly sonder aandag! En hierdie formidabele persoonlikheid het vir oulaas met haar goudgeel oë na my gekyk, voor sy finaal in die niks versink het terwyl ek haar sagte, maer ou lyf vasgehou het. 'n Gat is uit my hart geruk!
Op 22 April 2017, op pad na 'n welverdiende vakansietjie, kry ek my vriendin se gevreesde oproep - Bart se 14 jarige ou lyf kan en wil nie meer baklei nie. My klein windgat Scotty wat ek as verjaardag geskenk by my man gekry het, wat ons grootgemaak het, wat 'n maatjie Bonnie gekry het en saam met haar het hulle 4 werpsels van die aller-allermooiste klein Skotse Terriertjies in die lewe gebring.
Ek sien hom eintlik in my geestes-oog - hy het soos 'n senuagtige pappa kort-kort kom snuffel by die "kraamkamer". Hy was nou nie juis 'n geduldige pappa wanneer die skerp tandjies van die klein terriertjies hom karnuffel het nie, maar dit het darem net gebly by net 'n brom.
Toe trek ons KZN toe en hy ontdek die see, die wόnderlike see, die sand, branders en vir Jessie. Hy was tog só verlief op Jessie, die Duitse Herdershond. Hy kon nét nie by haar bykom nie maar hy het tog sy laaste dae saam met haar deurgebring. Hy het dit geliéf om vir Jessie te gaan kuier en motor te ry en kon tog só spog, wanneer hy ge"valet"(geskeer) is by die salon! Hy kon menige mens laat lag deur net homself te wees. 'n Regte "Mr Personality"!
My trots, my konfidant, my sieketrooster en oppasser, my nar, my chocolate-dief, my dierbaarste klein "surfer" van branders by Winkelspruit strand - ou Bart moes die reënboogbrug oorsteek.
Ek voel of Kimberley se gat in my lyf insink waar my hart moet wees en ek tjank soos 'n alleen jakkals in die Bosveldnag - lank en sonder voorbehoud. Die stukkendgeit brand in my bors en 'n vol Vaaldam se oop sluise se water spoel oor my wange. Hoeveel seerkry kan 'n mensehart dan verduur?
Hoe meet ek die pyn wat die verlies van my diere-kinders teweeggebring het?
Maar so gaan ons vir die eerste keer in 20 jaar op 'n familie-vakansie en dis met gemengde gevoelens wat ek uit die bakkie klim in Ponta in Mosambiek na die hartseernuus oor Bart, en wat sal ek sien?
By ons kampplek, by een van die huisies langs die paadjie op pad na ons huisie, staan 'n Scotty -
en ek wil eers verby loop en in my seerkry gaan wegkruip, maar dis asof hy my met sy bruin beertjie-oë dwing om na hom te kyk - en dis asof hy vir my sê:
"Hallo jy, wees-dierema,
kom sit hier by my.
Bart & Fiela sê jy moenie so huil nie,
los die stukkende gevoelte in jou binneste en loop liewer die onthou-pad."
En hierdie Scotty vind 'n gat in die draadheining rondom hulle huisie om uit te kom,
en hierdie troos-Scotty kom kuier elke dag by ons - in ons huisie,
asof hy weet,
hierdie wees-dierema en -pa kort bàie troos-lekke.
En ons voer hom
En hy "praat"met ons (nes Bart ook gemaak het met so growwe stem)
En hy maak vir 'n rukkie vir 'n dag of 4 of hy ons s'n is -
En, miskien wàs hy?
Maar toe ons ry - toe's hy weg ...
nêrens te sien nie.
Maar hy wàs daar - die koekoesgeit het my nie gevat nie!
Ek wѐѐt,
want ek het foto's,
en ek kan die onthou-pad loop sonder om so vrѐѐslik stukkend te voel.
Dankie Scotty-sonder-naam -
Ek hoop maar om eendag weer Madame Fiela & ou Bart aan die ander kant te vind
en intussen sê ek vir jou:
Wanneer jy die reënboogbrug oorsteek en jy sien my twee diere-kinders,
stuur asb vir hulle baie liefde en sê vir hulle ons mis hulle ...
en vir jou sê ek
Dankie my Mosambiek Engel !